NP van Wyk Louw
  • Tuis
    • Biografies
    • Bones download
  • Poësie
    • Alleenspraak
    • Die halwe kring
    • Gestaltes en diere
    • Nuwe verse
    • Tristia
    • Versamelde gedigte
    • Verborge vuur
    • Raka
  • Prosa
    • Berigte te Velde
    • Lojale verset
    • Liberale nasionalisme
  • Dramas
    • Germanicus
    • Die held
    • Die pluimsaad waai ver
    • Asterion
    • Blomme vir die winter
    • Lewenslyn
    • Die Dieper Reg
    • Dias : 'n hoorspel
    • Dagboek van 'n soldaat
    • Berei in die Woestyn : 'n sinne- en wa-spel
  • Studies oor Van Wyk Louw
    • Hulde
  • Skakel met ons
NP van Wyk Louw

jy wat alle seisoene
kon skilder
en reduseer
tot herhalende kleur van wit
wat die kruis
in katoliek én golgota kon sit
wat engele
kon laat vlieg
laat val
deur lig en duisternis
kon laat stort
wat pyn en verlange
kon benoem
tot onrus van alle mensbestaan

jy wat kon skryf
oor die smaad van verraad
oor lojaliteit
en lojale verset
wat die pluimsaad so ver moes laat waai
dat so min
jou kon verdedig het
en tog profeties kon verklaar
die hoogste goed
sou ons getrou
immer aan ons bloed nog hou
en of jy abélard of nietzsche was
die wete van eensaamheid
sou die menslike begrip wees wat bly

maar in eenvoud
kon jy met woorde kloof
met 'n beitel teen graniet
sodat planeet en hart
kon stukkend skeur
in die witter-wees van rou verdriet
en nog soek ék die groter sin
in soveel strofes, verse
en al die ruimtes tussen-in
want die heelal van jou poësie
word 'n wenteling deur sterrestelsels
met grense en horisonne
wat ongehoord en heilig was
tog: so lig van pen skryf jy alles vas

MCE Moolman-Louw

Hulde aan Van Wyk Louw