|
Hierdie epos verhaal die ondergang van 'n gemeenskap in landelike Afrika. Die vrede van die samelewing word versteur as 'n vreemde primaat aankom. Sy sensualiteit bekoor die vroue, sy stuitige speelsheid lok die kinders en sy brute krag imponeer die mans. Van Wyk Louw wou geen illustrasie van Raka laat afdruk nie, want dit sou te dierlik, dalk potsierlik wees om aan die eise van aantreklikheid vir die mense te voldoen. Die buiteblad van die skooluitgawe het inderdaad 'n tekening van Raka gedra, ongelukkig met kort beentjies en lang arms: meer aap as mens. Die uitgawe het ook woorde weggelaat uit die volgende passasie van die gedig:
die mondgat uitgegrawe en skewerig vol wit doringtande, en skaamteloos groot die skaamte ... Nie slegs word die jong leier Koki in die onvermydelike geveg teen Raka gedood nie, maar die gemeenskap se tradisionele kultuurgebruike is verbreek. Hy, Raka, is sonder die wette wat mans leer (milayo is die woord in Venda). |